Content area
Abstract
Hierdie navorsing behels beide die eksegese van bepaalde perikope, sowel as die eksegese van ‘n teologiese tema, naamlik die leierskap van die Pauliniese kerke. Hoofstuk een verskaf die motivering vir die navorsing (soos die fundamentele belang van leierskap; die voortgesette onsekerheid met betrekking tot die vorm en funksies van die vroeë kerk se leierskap), asook ‘n navorsingsoorsig met betrekking tot die onderwerp. Uit die navorsingsoorsig word sekere brandpunte geïdentifiseer, wat dan die basis vorm vir die multidimensionele probleemstelling en die spesifieke vrae wat aan die orde gestel word in die studie. Die kwessies wat ondersoek word behels:Die identifisering van die gestalte(s) van die Pauliniese kerke se leierskapstruktuur.Die identifisering van die kulturele antesedente wat as ‘genetiese poel’ vir die Pauliniese kerke se bedienings- en leierskapstrukture gedien het (Hellenisme en Judaïsme[s]).Die beskrywing van die verhouding tussen ‘charisma’ en ‘amp.’Die wesensaard van die Pauliniese bediening, asook Pauliniese, geestelike outoriteit.Die relevansie van die Pauliniese kerke se bedieningstrukture vir die hedendaagse kerk.
Die navorsingsmetodologie van hierdie studie sluit drie perspektiewe in waarmee gewerk word en wat op die betrokke perikope van toepassing gemaak word, naamlik:Die invloed van die sosio-kulturele sisteem waarbinne die eerste Christene geleef het (sosiale waardes; politieke strukture; die ‘oikos’);die teologiese tradisies waarin Christene (veral Paulus) opgegroei het (onder andere die Judaïsme en hellenistiese godsdienste) wat spontaan as verwysingsraamwerk gefunksioneer het in kerkleiers se denke ten opsigte van die ordening van die vroeë gemeentes;die dinamiese inspirasie van die Heilige Gees (pneumatologiese invloed), omdat die daar myns insiens ‘n definitiewe pneumatologiese plan aan die ontvou was in die vroeë kerk ten opsigte van vorm en leierskapstrukture.
Hierdie studie maak erns met die sosiaal-kulturele dimensies van die vroeë kerk (hoofstukke twee en drie) en spesifiek sy leierskap, aangesien daar in die verlede baie anakronisties gewerk is met die Nuwe Testament in dié verband - iets waaraan voorstanders van die sogenaamde kronologiese perspektief myns insiens skuldig is (asook die interpretasie van Nuwe-Testamentiese bedieninge in terme van ‘ampte’ in die moderne sin). Daarom word meer intens gefokus op die wêreld van die teks, en word daar deurgaans gepoog om die invloede van die kragtige sosio-kulturele faktore (sekulêr en godsdienstig) op die kerk te verreken.
Perikope wat aan die orde kom vanaf hoofstuk vier tot hoofstuk ses is 1 Korintiërs 12 tot 14; Efesiërs 4:11-13; 1 Timoteus 3:1-13, en Titus 1:5-10. Uit die navorsing word die bovermelde kulturele en godsdienstige invloede op die vroeë kerk bevestig, en word die aard daarvan van naderby ondersoek. Dit is duidelik dat daar nie werklik van ‘direct debts’ tussen die Pauliniese kerke en die ander samelewingsverbande gepraat kan word nie. Daar is eerder ‘n algemene en analogiese verband sigbaar.
Hoofstuk sewe bestaan uit ‘n samevatting van die gevolgtrekkings wat uit die studie afgelei is, asook die aanbied van riglyne (dimensies) ten opsigte van leierskap, gebaseer op die eksegese van die briewe en die ervaring van die Pauliniese kerke, wat moontlik as patroon kan dien vir die hedendaagse kerk en sy leierskap. Die hoofstuk sluit af met ‘n definisie van ‘n Pauliniese bedienaar/leier, asook slotopmerkings.





