Content area

Abstract

Satire was reeds die onderwerp in verskeie Suid-Afrikaanse letterkundige studies, en in heelwat van hierdie ondersoeke is op die werk van Etienne Leroux gekonsentreer. Vanweë die skerpkantige aard van satire is raakpunte (en selfs botsings) met die reg onafwendbaar. In die vorige bedeling is sekere satiriese werke as ongewens beskou, en het uitgewers die hof genader vir ‘n hersiening van die sensors se verbiedinge. Die huidige bedeling van groter spraakvryheid bring mee dat satirici, trou aan hulle aard en dié van hulle kuns, grense voortdurend toets. Satiriese skeppings soos dié van spotprenttekenaar Jonathan Shapiro (Zapiro) en Laugh it Off Promotions het tot regsgeskille aanleiding gegee.

Hoewel hierdie studie van beperkte omvang is, word beide die kunsen regsterrein bestryk.

'n Volledige bespreking en definisie van satire kom in die volgende hoofstuk aan die bod, maar dit is nodig om nou reeds te sê dat die satirikus ‘n tweeledige doel voor oë het. Die korttermynoogmerk is om op kunstige wyse menslike swakhede en sosiale wantoestande bloot te lê en bespotlik te maak, en die uiteindelike oogmerk is om verbetering of regstelling te bewerkstellig. Anders gestel, die satirikus spot omdat dit uiteindelik in die ware openbare belang is om dit te doen. Satire kan ook beskryf word as skerp sosiale kommentaar.

Satire kom in 'n veeltal kunsvorms voor, waaronder die letterkunde, beeldende kuns, musiek, teater- en rolprentkuns. Die satirikus se gehoor kan in samestelling en grootte verskil – van 'n uitgelese groepie teatergangers tot duisende koerantlesers.

Kunsbeoefening gaan enersyds oor die kunstenaar se vertolking van wat hy of sy waarneem of ervaar. Andersyds gaan dit oor kommunikasie met 'n gehoor van kykers, lesers of luisteraars. Aangesien die satirikus sosiale kommentaar lewer, geskied sy of haar kunsbeoefening by uitstek nie in 'n vakuum nie, maar word dit op 'n gehoor gerig, wat natuurlik teikenfigure mag insluit.

Die satirikus se teikenfigure behels sowel natuurlike persone as regspersone of instansies soos owerhede, verenigings en besighede. Satire word gewoonlik gemik op booshede soos magsmisbruik, selfbelangrikheid, arrogansie en uitbuiting. Derhalwe is die teikenfigure dikwels maghebbers, want dit is hierdie persone of instansies wat hulle aan genoemde sosiale sondes skuldig maak, dikwels te midde van 'n vrome verdoeseling van eie belang. Hoewel die satirikus magsmisbruikers op ‘n skerp manier hardhandig behandel, is daar ook ander teikens: howelinge wat maghebbers omring en in kruipery, lofsange en beeldpoetsery bestaansreg vind; asook “gewone mense” wat gewillige slagoffers is vir uitbuitery en manipulasie. In beide gevalle bied die swakhede uitstekende stof vir satiriese spot, en is die langtermynoogmerk van regstelling in openbare belang.

'n Satiriese kunsuiting is bedoel en gewoonlik bestem om spanning te skep tussen die kunstenaar se reg op uitdrukking, die regte en belange van die teikenfigure en die publiek se reg om ingelig (en vermaak!) te word. Vanuit 'n regs- en kunsoogpunt is satire in 'n jong demokrasie soos SuidAfrika 'n belangrike en interessante kunsvorm, aangesien dit gewoonlik openbare debat stimuleer, hetsy deur die satiriese uiting as sodanig of die teikenfiguur se reaksie. Laasgenoemde het die bykomende waarde dat dit die aanvanklike satiriese kommentaar kan bevestig.

Details

Title
Satire, Spraakvryheid, Sensuur en Siviele Aanspreeklikheid en Portretjie en Ander Verhale
Author
Ackermann, Marius Francois
Publication year
2010
Publisher
ProQuest Dissertations & Theses
ISBN
9798380932127
Source type
Dissertation or Thesis
Language of publication
Afrikaans
ProQuest document ID
2901483593
Copyright
Database copyright ProQuest LLC; ProQuest does not claim copyright in the individual underlying works.