Jana Luther, Fred Pheiffer en Rufus H. Gouws (Redakteurs). HAT. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Sesde uitgawe. 2015, xviii + 1618 pp. ISBN 978-1-77025-700-9. Kaapstad: Pearson. Prys: R490.
Indien jy bevrediging geput het uit die gebruik van die vorige uitgawes van die HAT, sal jy nog meer bevrediging put uit die gebruik van die sesde uitgawe van die HAT wat in Julie 2015 verskyn het.
Die sesde uitgawe is die eerste werklik omvattend herbewerkte en uitgebreide uitgawe van die HAT en dit is gepas dat dit 50 jaar na die verskyning van die eerste uitgawe (1965) gepubliseer is. Resensies van HAT 6 deur Daniel Hugo (2015) en Joan Hambidge (2015) het reeds in onderskeidelik Rapport en Die Burger verskyn.
Die sentrale teks van die nuwe HAT beslaan 1 614 bladsye, 204 bladsye meer as die vyfde uitgawe wat tien jaar gelede in 2005 verskyn het. Elke bladsy bevat gemiddeld 50 lemmas volgens die Gids vir die Woordeboekgebruiker, wat beteken dat die HAT 'n totaal van 80 700 lemmas bevat. Baie het in die afgelope tien jaar in Afrikaans gebeur en HAT 6 slaag goed daarin om die ontwikkeling van die afgelope tien jaar te weerspieël. Meer as 3 200 nuwe lemmas is bygevoeg en meer as 5 300 nuwe betekenisonderskeidings. Ongeveer 3 000 ouer woorde en uitdrukkings, waarvan baie glad nie meer gebruik word nie, is uit die gedrukte woordeboek gelaat. Hierdie woorde en uitdrukkings word egter behou in 'n nuwe aanlyn moederwoordeboek. Hulle is dus nie verlore vir die nageslag nie.
Die bondige en leesbare Gids vir die woordeboekgebruiker is 'n nuttige hulpteks vir die leksikografiese leek. Terme soos lemma (trefwoord), wisselvorme, homonieme, poëme, sitate en kollokasies word in verstaanbare Afrikaans verhelder. 'n Interessante vernuwing is dat kollokasies afsonderlik verklaar word, bv.:
sal·do s.nw. [~'s; ~'tjie] (<It., rekeningkunde) verskil tussen debiet en krediet; oorskot: die saldo in jou bankrekening nagaan | 'n batige saldo 'n winsbalans.
Die oordeelkundige aangawe van etimologiese inligting, dikwels slegs die herkomstaal van 'n lemma, verhoog die waarde van die artikels. Etimologiese inligting word aan die einde van 'n artikel verskaf (vet gedruk tussen blokhakies met die herkomswoord gekursiveer) en indien slegs die herkomstaal verstrek word, geskied dit gekursiveer aan die begin van die artikel:
a·or·ta s.nw. [~s] (Gr., anat.) ... ; sal·do s.nw. [~'s; ~'tjie] (<It., rekeningkunde)
an·ti·pa·tie s.nw. [~ë] afkeer; teësin: 'n sterk antipatie teen(oor) leegleêrs voel. [anti + Grieks pathos gevoel]
Meer morfologiese en grammatikale inligting word in HAT 6 verstrek as in vorige uitgawes, bv.:
nul s.nw., telw. [~le; ~letjie] teenoor nul s.nw. en telw. (-le)
on·be·skre·we b.nw. [~] [voltooide deelwoord van onbeskryf] teenoor on·be·skre'·we b.nw.
'n Wins by die aanduiding van die aksent in die nuwe HAT is die onderstreping van die beklemtoonde lettergreep, bv. bot·tel en selfs by eenlettergrepige lemmas soos boud en boul wat 'n diftong bevat (alhoewel y-gevalle oorgeslaan word). Dit laat geen twyfel oor watter lettergreep die hoofklem ontvang nie. Uitspraakleiding met behulp van die gewone alfabet (tussen ronde hakies, voorafgegaan deur die merker uitspr.) word slegs by vreemde woorde gegee: boules (uitspr. boel).
Afkortings word volgens die moderne konvensie alfabeties as lemmas opgeneem en nie in 'n aparte lys van afkortings nie. 'n Knap vernuwing is dat afkortings van trefwoorde ook (tussen blokhakies) by die voluit geskrewe lemma opgeneem word:
TB afk. tuberkulose.
tu·ber·ku·lo·se s.nw. [afk. TB] [geen mv.] (patol.) besmetlike bakteriële siekte gekenmerk deur die vorming van tuberkels/knoppies/knobbeltjies in ...
Die taak van 'n standaard- sinchroniese woordeboek soos die HAT is om die standaardvariëteit van 'n taal te beskrywe soos dit ten tyde van die samestelling van die woordeboek gebruik word. In die voorwoord tot HAT 6 word die volgende stelling gemaak: "As Standaardwoordeboek beskryf die HAT veral die verskuiwende standaardvariëteit van Afrikaans. Dit sluit 'n beperkte dog groeiende versameling in van leksikale items uit van die ander variëteite (wat vollediger in die WAT bewerk word)." Pheiffer (2015) maak die stelling dat Kaaps die een variëteit van Afrikaans is wat in die nuwe uitgawe van die HAT veel groter aandag as voorheen gekry het en dat HAT 6 waarskynlik een van die eerste publikasies is wat Kaaps op so 'n skaal opneem. Dit is prysenswaardig dat op hierdie wyse erkenning gegee word aan Kaaps, maar die vraag ontstaan of die Kaapse lemmas as deel van die "verskuiwende standaardvariëteit van Afrikaans" beskou kan word. Word mang (tronk) en sharp (reg/goed so) derhalwe as Standaardafrikaans beskou of is dit nog deel van die variëteit Kaaps? Woorde uit Kaaps soos mang, skanghagha en sharp word as (sl.) geëtiketteer. Ander Kaapse woorde soos poenankies word net soos woorde soos skarminkel (wat ongeëtiketteer in die AWS opgeneem is) as (infml.) geëtiketteer. Die opname van woorde uit Kaaps in HAT 6 is 'n wins, maar die opname van die variëteite van Afrikaans in die HAT as 'n standaardwoordeboek sal voortaan duidelik verantwoord moet word.
Engelse woorde soos stupid en cool word as (Eng., sl.) gemerk, maar die volgende lemmas in HAT 5 is weggelaat in HAT 6: stunning (E., geselst.) suffer (E., geselst.), clue (E.) en casual (E.). Dit beteken dat daar besluit is die woorde is nie deel van die "verskuiwende standaardvariëteit van Afrikaans" nie. Dit is nie duidelik wat die maatstaf vir hierdie kategorie is nie.
Die verbreking van 'n leksikografiese konvensie is waarskynlik vir almal aanvaarbaar indien dit tot voordeel van die gebruiker is. Dit is egter moeilik om enige voordeel vir die woordeboekgebruiker daarin te sien dat definisies nie volgens konvensie met 'n hoofletter begin nie. Die definisie staan nie uit as die belangrikste inligtingstipe van 'n verklarende woordeboek nie en is veral moeilik uitkenbaar waar die definisie ook besonder bondig is. Ook poëme begin nie altyd met 'n hoofletter nie, met dieselfde gevolg:
I·be·ries (geogr.) b.nw. [~e] van/uit Iberië: die Iberiese ryk/skiereiland.
Die hoë frekwensie van hakies en die solidus belemmer die leesbaarheid van definisies. Dit lyk soms asof daar nie gekies kon word tussen verskillende sinonieme of wisselvorme as definiërende woorde nie:
om·to·wer ww. [tower om, het omgetower] Ook om·to·wer [het ~] (soos) deur/met 'n towerslag iets anders (laat) word:
kwyl s.nw. [geen mv.] speeksel/spoeg wat uit die mond loop: 'n baba se kwyl afvee.
ka·fe·ïen s.nw. [geen mv.] Ook (verouderd) ka·fe·ï·ne, kaf·fe·ïen, kaf·fe·ï·ne wesen(t)like stimulerende bestanddeel van koffie, tee...
ras·se·kaart s.nw. [gew. ekv.] Ook ras·kaart (SA) verwysing na velkleur. | die ras(se)kaart uithaal/speel/gebruik in die beoordeling/verduideliking/verdediging van 'n saak (onnodig/moedswillig) na iemand se velkleur/ras verwys.
Soos in vorige uitgawes (Botha 2001 en 2005) word die bewerking van lemmas nie altyd deur konsekwentheid gekenmerk nie. Dit blyk onder andere uit die hantering van sinonieme: by leksikograaf word woordeboekmaker as sinoniem vermeld, maar woordeboekmaker word slegs as 'n onverklaarde samestelling by woordeboek opgeneem. Die gebruiker kan dus nie van woordeboekmaker na leksikograaf gelei word nie.
By die nuut toegevoegde lemmas en by die beledigende leksikale items kom soms 'n ongelykheid van bewerking voor. Die definisies van leeuloop en papsak hel oor na die ensiklopediese en val in hierdie kategorie. Ongelyke behandeling kom ook by rassismes voor. Die k-woord word uitvoerig behandel met 'n definisie en 'n waarskuwing dat iemand gedagvaar kan word vir die gebruik van die woord. By die h-woord word egter geen definisie verstrek nie en die behandeling is baie bondiger met geen vermaning dat iemand gedagvaar kan word vir die gebruik van die woord nie. Outa en meid word ook ongelyk bewerk.
Ten spyte van tekortkominge staan dit tans, nog meer as in die verlede, buite kyf dat die HAT die leier is in die geledere van Afrikaanse handwoordeboeke.
Verwysings
Botha, W. 2001. Moderner 'HAT' steeds gewortel in sterk tradisie. Die Burger, 24 Januarie 2001: 14.
Botha, W. 2005. Nuwe HAT modern, leier in klas. Die Burger, 31 Oktober 2005: 15.
Hambidge, J. 2015. Taal is nie nét taal, kepies en klanke nie. By, Die Burger, 22 Augustus 2015: 8.
Hugo, D. 2015. Daar is nog baie skop in dié 'antie'. Rapport Weekliks, 9 Augustus 2015: 13.
Pheiffer, F. 2015. Sunday Argus, 2 Augustus 2015: 17.
Willem Botha
Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal
Stellenbosch
Suid-Afrika
You have requested "on-the-fly" machine translation of selected content from our databases. This functionality is provided solely for your convenience and is in no way intended to replace human translation. Show full disclaimer
Neither ProQuest nor its licensors make any representations or warranties with respect to the translations. The translations are automatically generated "AS IS" and "AS AVAILABLE" and are not retained in our systems. PROQUEST AND ITS LICENSORS SPECIFICALLY DISCLAIM ANY AND ALL EXPRESS OR IMPLIED WARRANTIES, INCLUDING WITHOUT LIMITATION, ANY WARRANTIES FOR AVAILABILITY, ACCURACY, TIMELINESS, COMPLETENESS, NON-INFRINGMENT, MERCHANTABILITY OR FITNESS FOR A PARTICULAR PURPOSE. Your use of the translations is subject to all use restrictions contained in your Electronic Products License Agreement and by using the translation functionality you agree to forgo any and all claims against ProQuest or its licensors for your use of the translation functionality and any output derived there from. Hide full disclaimer
Copyright Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (Bureau of the WAT) 2015
Abstract
Etimologiese inligting word aan die einde van 'n artikel verskaf (vet gedruk tussen blokhakies met die herkomswoord gekursiveer) en indien slegs die herkomstaal verstrek word, geskied dit gekursiveer aan die begin van die artikel: a·or·ta s.nw. [~s] (Gr., anat.) ... ; sal·do s.nw. [~'s; ~'tjie] (<It., rekeningkunde) an·ti·pa·tie s.nw. [~ë] afkeer; teësin: 'n sterk antipatie teen(oor) leegleêrs voel. [anti + Grieks pathos gevoel] Meer morfologiese en grammatikale inligting word in HAT 6 verstrek as in vorige uitgawes, bv.: nul s.nw., telw. [~le; ~letjie] teenoor nul s.nw. en telw. (-le) on·be·skre·we b.nw. [~] [voltooide deelwoord van onbeskryf] teenoor on·be·skre'·we b.nw. 'n Wins by die aanduiding van die aksent in die nuwe HAT is die onderstreping van die beklemtoonde lettergreep, bv. bot·tel en selfs by eenlettergrepige lemmas soos boud en boul wat 'n diftong bevat (alhoewel y-gevalle oorgeslaan word). Dit sluit 'n beperkte dog groeiende versameling in van leksikale items uit van die ander variëteite (wat vollediger in die WAT bewerk word)." Dit lyk soms asof daar nie gekies kon word tussen verskillende sinonieme of wisselvorme as definiërende woorde nie: om·to·wer ww. [tower om, het omgetower] Ook om·to·wer [het ~] (soos) deur/met 'n towerslag iets anders (laat) word: kwyl s.nw. [geen mv.] speeksel/spoeg wat uit die mond loop: 'n baba se kwyl afvee. ka·fe·ïen s.nw. [geen mv.] Ook (verouderd) ka·fe·ï·ne, kaf·fe·ïen, kaf·fe·ï·ne wesen(t)like stimulerende bestanddeel van koffie, tee... ras·se·kaart s.nw.
You have requested "on-the-fly" machine translation of selected content from our databases. This functionality is provided solely for your convenience and is in no way intended to replace human translation. Show full disclaimer
Neither ProQuest nor its licensors make any representations or warranties with respect to the translations. The translations are automatically generated "AS IS" and "AS AVAILABLE" and are not retained in our systems. PROQUEST AND ITS LICENSORS SPECIFICALLY DISCLAIM ANY AND ALL EXPRESS OR IMPLIED WARRANTIES, INCLUDING WITHOUT LIMITATION, ANY WARRANTIES FOR AVAILABILITY, ACCURACY, TIMELINESS, COMPLETENESS, NON-INFRINGMENT, MERCHANTABILITY OR FITNESS FOR A PARTICULAR PURPOSE. Your use of the translations is subject to all use restrictions contained in your Electronic Products License Agreement and by using the translation functionality you agree to forgo any and all claims against ProQuest or its licensors for your use of the translation functionality and any output derived there from. Hide full disclaimer