Content area

Abstract

Die doel van hierdie studie is tweeledig. Eerstens om 'n historiese samevatting te gee van die aanloop tot en die ontstaan en werksaamhede van die eerste georganiseerde pottebakkerswerke in Suid-Afrika. Tweedens het die studie ten doel om as bewys te dien dat die werke wat by Olifantsfontein gelewer is, uit 'n estetiese oogpunt, meriete het en 'n waardige plek in die kunsgeskiedenis van Suid-Afrika verdien.

Hoofstuk I gaan dus om die plek van die "Transvaal Potteries", die "Ceramic Studio" en die "Linn Ware" in die Suid-Afrikaanse kunsgeskiedenis aan te dui. "Transvaal Potteries" (1907- 1914) word hier slegs ter wille van historiese volledigheid genoem omdat die "Ceramic Studio" en die "Linn Ware"-ateljee (1925-1955) fisies in dieselfde gebou as die "Transvaal Potteries" gelee was. Die werke wat deur die "Transvaal Potteries" gelewer is, kan as Engelse pottebakkerswerk beskou word, soos wat duidelik uit hoofstuk II sal blyk.

In hoofstuk I word verder gepoog om die "Ceramic Studio" en "Linn Ware" in die konteks van die geskiedenis van die Engelse en Europese pottebakkerswerk te plaas. Derhalwe word die invloed van die gedagtes van mense soos William Morris en William de Morgan bespreek, asook die spesifieke omstandighede wat gedurende daardie tyd in Suid-Afrika geheers het.

Hoofstuk II handel oar die ontwikkeling van pottebakkerswerk in Suid-Afrika sedert die volksplanting, met spesifieke verwysing na Olifantsfontein. Ten einde die spesifieke opset by Olifantsfontein te verduidelik, is dit nodig om 'n volledige uiteensetting van die aanloop tot die "Transvaal Potteries" te gee. Laasgenoemde impliseer 'n verwysing na die geskiedenis van die Cullinan-familie in Suid-Afrika. In hoofstuk III volg 'n volledige beskrywing van die tegniese aspekte van pottebakkery by Olifantsfontein.

Die werke wat deur die ateljee geproduseer is, word in twee afdelings verdeel, naamlik (a) driedimensionele versiersels en gebruiksartikels en (b) muurpanele. Met driedimensionele versiersels word bedoel dekoratiewe potte en beelde. Muurpanele verwys na teelpanele en gemodelleerde panele.

Aanvanklik is beplan om albei onderafdelings in hierdie verhandeling te behandel. Toe die verhandeling egter reeds ver gevorder het, het dit duidelik geword dat die inligting te omvattend is, en dat daar nie reg geskied sal word daaraan in 'n enkele verhandeling nie. 'n Besluit is dus geneem om die inligting te verdeel en in hierdie verhandeling hoofsaaklik oor die driedimensionele versiersels en gebruiksartikels te skryf.

Die teelpanele en gemodelleerde panele wat tussen 1925 en 1955 by Olifantsfontein gemaak is, is so talryk dat dit 'n studie op sigself verdien. Ter wille van die globale beeld is daar egter besluit om wel 'n oorsigtelike hoofstuk in te sluit waarin daar na die drie tipes muurpanele, naamlik openbare opdragte, opdragte deur privaat argitekte en aanvrae deur privaat persone verwys word (hoofstuk IV). In 'n bylaag word 'n so volledig moontlike lys van die muurpanele gegee.

Die kern van hierdie verhandeling le in hoofstuk V waar gepoog word om 'n estetiese evaluering van Olifantsfonteinpotte te gee, en waar daar telkens lyne getrek word na die invloed daarop uit Engeland en Europa asook vanuit die Sjinese keramiek, veral die van die Songtydperk.

Hoofstuk VI handel oor die beeldhouwerke en is slegs ter wille van volledigheid ingesluit. Die modelleerwerk is hoofsaaklik deur die Natalse beeldhouer Mary Stainbank gedoen, en is dan deur die "Ceramic Studio" en "Linn Ware" uitgevoer.

Details

Title
Pottebakkerswerk in Suid-Afrika Met Spesifieke Verwysing na die Werk wat Vanaf 1925 to 1952 by Olifansfontein Gedoen is
Author
Heymans, Johanna Adriana
Publication year
1989
Publisher
ProQuest Dissertations & Theses
ISBN
9798380984645
Source type
Dissertation or Thesis
Language of publication
Afrikaans
ProQuest document ID
2901492385
Copyright
Database copyright ProQuest LLC; ProQuest does not claim copyright in the individual underlying works.