Content area
Abstract
1.1. Agtergrond
Die Wet op Verbruikersbeskerming, Wet 68 van 20081 (hierna die ―Verbruikersbeskermingswet‖ genoem) het op April 2011 ten volle in werking getree, alhoewel spesifieke gedeeltes van die Verbruikersbeskermingswet reeds op 24 April 2010 in werking getree het.
Alhoewel die Verbruikersbeskermingswet en die Nasionale Kredietwet, Wet 38 van 2005 (hierna die ―Nasionale Kredietwet‖ genoem) nie die enigste verbruikersbeskermingswetgewing in Suid-Afrika is nie, oefen spesifiek die Verbruikersbeskermings-wet, vir die doeleindes van hierdie navorsing, ‘n invloed op die gemeenregtelike posisie in die Suid-Afrikaanse kontraktereg uit.
Die Verbruikersbeskermingswet word as ‘n ―Handves van regte vir die verbruikers‖ beskryf. ‘n Kardinale oogmerk van die Wet is om ‘n billike, toeganklike en volhoubare kommersiële handelsfeer vir verbruikers daar te stel. Die Wet het ‘n fundamentele impak op die gemenereg, in die algemeen die breër regsbeginsels insake verbruikersbeskerming. Van die mees ombestrede gedeeltes van die Wet is die artikels wat ‘n invloed op die kontraktereg uitoefen, meer spesifiek die statutêre verbod op onbillike, onredelike of onregverdige kontraksbedinge. In die besonder poog die Verbruikersbeskemingswet grootliks om die gemeenregtelike posisie van die kontraktuele beperking van aanspreeklikheid te reguleer. Wysigings word ingevoer onder andere deur artikels 48 wat handel oor onbillike, onredelike of onregverdige kontraksbedinge; 49 wat betrekking het op die kennisgewing vereis vir sekere bedinge en voorwaardes; 51 wat te make het met verbode transaksies, ooreenkomste, bedinge of voorwaardes en 61 wat op aanspreeklikheid vir skade deur goedere veroorsaak, betrekking het. Hierdie skripsie fokus spesifiek op hierdie artikels van die Wet.
Dit is algemeen bekend dat die Verbruikersbeskermingswet vele weersprekende en onduidelike bepalings bevat. Dit maak die uitleg van die Verbruikersbeskermingswet en die effek op die Suid-Afrikaanse kontraktereg moeilik bepaalbaar en dus onseker. Hierdie skripsie poog om sommige probleme rondom hierdie aspek uit te lig, maar in die afwesigheid van uitvoerige positiewe reg op die gebied sal dit nie die laaste woord oor die onderwerp kan spreek nie.
1.2. Navorsingsvraag en -metodologie
Die hooffokus van hierdie navorsing is om die implikasie van artikels 48, 49, 51 en 61 van die Wet op Verbruikersbeskerming op die gemeenregtelike posisie rakende die kontraktuele beperking van aanspreeklikheid te bepaal. Meer spesifiek, sal die volgende vrae aangespreek word om aanspreeklikheid deur kontrakpartye te beperk, nl. hoe die howe bedinge wat aanspreeklikheid beperk mag uitlê; tot watter mate verbruikers gebonde gaan wees aan kontraktuele bedinge wat nie in die verbruiker se guns tel nie en hoe die Verbruikersbeskermingswet tans regsekerheid beïnvloed. Daar sal dus slegs op kontrakte wat binne die bestek van die Verbruikersbeskermingswet val, gefokus word.
Omdat dit ‘n nuwe wet is, sal daar in die afwesigheid van Suid-Afrikaanse hofuitsprake en regsleer ‘n regsvergelykende navorsingsmetode gevolg word, waar ‘n vergelyking tussen die Suid-Afrikaanse en Australiese reg getref word. Die Australiese reg is ons regsontwikkeling op hierdie gebied ‘n stap vooruit en kan hulle wetgewing, asook die toepassing daarvan, lig op die onderwerp werp.





