Content area
Abstract
Die talle skandale wat die sakewêreld tot onlangs geruk het, het die integriteit van senior bestuurslui onder die vergrootglas geplaas. Vele vrae oor waardes en etiek is aan die orde van die dag. Suid-Afrika het nie hierdie skandale vrygespring nie. Inteendeel, bedrog binne besighede en die staatsektor is aan die orde van die dag en gereeld voorbladnuus. In ’n land wat as ’n sogenaamde Christelike land bekend staan, omdat ongeveer 80% van die inwoners beweer dat hulle Christene is, kan tereg gevra word: “Waar is die Christenleiers in besigheid?”
Die doel van hierdie studie was om op reis te gaan met Christene wat leiers in die sakewêreld is. Ek verwys na hulle as medenavorsers, omdat hulle die kundiges van hulle eie konteks is. Hulle konstrueer inderdaad die sosiale konteks van hulle besighede, omdat leiers die kultuur en atmosfeer van hulle besighede bepaal. Ek het met elkeen na sy/haar unieke konteks gekyk en saam met hulle na hulle verhale geluister.
Ek was saam met elf medenavorsers op ’n narratiewe reis, waar ek baie van hulle uitdagings en suksesse geleer het. Agt van die elf medenavorsers was mans en drie vroue. Vier van die medenavorsers werk in die korporatiewe omgewing waarvan een ’n vrou en drie mans is. Verder is vyf entrepreneurs, waarvan vier mans en een ’n vrou is. Die laaste twee (man en ’n vrou) kom uit die staatsektor waar hulle senior posisies beklee.
In die lig van die aard van die studie is daar van ’n kwalitatiewe navorsingsontwerp gebruik gemaak en meer spesifiek van narratiewe navorsing. Binne die kwalitatiewe raamwerk het ek van ’n postfundamentele prakties-teologiese benadering gebruik gemaak. Ek kon as teoloog luister na mense wat in ’n totaal ander dissipline staan en binne hierdie transversale verhouding het ons God, Christus en die Heilige Gees opnuut ontdek. Ons het ontdek dat leiers se voorbeeld binne maatskappye van onskatbare waarde is. Verder het ons geleer dat indien jy as leier Christus bely, mense Jesus in jou lewe moet kan sien. My medenavorsers het gesê dat die wêreld ’n beter plek word waar Christene hulle waardes uitlewe. Wat ook telkens in die verhale na vore getree het, is dat leiers eers die koninkryk van God en sy wil voorop behoort te stel. Daar is ook saamgestem dat God jou as ’n leier kies om ’n verskil te maak. Daar is telkens na die Heilige Gees en dan spesifiek na die vrug van die Heilige Gees verwys. My medenavorsers het gesê dat indien die vrug van die Gees by leiers teenwoordig is, hulle maatskappye Christelike waardes (om God lief te hê met jou hele hart, siel en verstand en jou medemens lief te hê soos Jesus jou liefhet) bo alles sal uitdra. Wanneer hierdie waardes op liefde vir God, liefde vir mense rondom jou (werknemers in die geval van besighede) en op die vrug van die Gees gebou word, sal besighede bakens van hoop word vir die samelewing om hulle. Omtrent al die leiers strewe daarna om ’n diensknegleier te word.





