Content area
Abstract
Hierdie studie is daarop gemik om 'n ondersoek van tussen-menslike verhoudings te maak. Dit word gedoen by wyse van 'n ontginning van die filosofie van Emmanuel Levinas en Gabriel Marcel. Die onderskeie gesigspunte wat hierdie twee denkers op die onderwerp bied en evaluerings van hulle ooreenkomste en verskille word aangebied teen die agtergrond van die debat oor die verhouding tussen ontologie en etiek. Hierdie werkswyse laat ook nadenke oor die gepaste filosofiese benaderings tot die onderwerp toe.
Levinas ontwikkel sy filosofie veral in gesprek met Heidegger. Hy probeer om aan te toon dat die Heideggeriaanse ontologie noodwendig daartoe lei dat die totale werklikheid in die synsverstanende projek van die selfgeinkorporeer word, en dat die partikuliere, voor-verstaande syndes en die andersheid van die ander daardeur geweld aangedoen word. Levinas stel dan 'n ander perspektief op die self voor. Die self is 'n oomblik van bemeestering van die vloei van Wees. Die aaneenryging van sulke oomblikke konstitueer die bestaan van die selfop sy eie, van die selfwat verkeer onder die las daarvan om homselfte wees. Vanuit hierdie perspektief kan die selfin interaksie met die andersheid van werklikheid probeer tree. In die dood tref die self 'n volkome andersheid aan wat nie deurleefkan word nie. In die dinge kom die selfandersheid tee wat nie opgewasse is teen die vermoe van die selfom dit wat anders is in die self(de) tuis te maak nie. Dit is in kontak met ander mense dat die self die andersheid van die ander, die pluraliteit van die werklikheid, kan ontmoet. Dit gebeur in eros en ouerskap, maar ook in die konfrontasie met die gelaat van die ander. Laasgenoemde is 'n konfrontasie met die talige teenwoordigheid van die ander wat die vermoens van die selfvoorafgaan en 'n onbeperkte etiese appel tot die selfrig. Die etiese appel ondervang aIle vorme van taal en optrede.
Marcel se nadenke gaan uit van die misterie van my eie lyflike bestaan: my eksistensie gaan my denke vooraf. Deur my lyflike eksistensie geniet ek onmiddellike deelname aan die wereld en aan verhoudings met mense. Die spontane, eerste manier waarop denke hierdie deelname probeer ontgin laat nie reg daaraan geskied nie, omdat dit objektiverend werk; dit hanteer deelnarne as probleem wat opgelos moet word. Bywyse van 'n tweede refleksie kan die deelnarne (gedeeltelik) herwin word, as misterie hanteer word. Paradigmaties vir die hantering vanmisteries is die ek-jy-verhouding, Marcel stel die deelname aan verhoudings voor as iets wat mank gaan aan die objektiverende denke wat ander mense tot hulle eienskappe en funksies degradeer. Eintlik is verhoudings 'n misterie wat gelyktydig 'n appel tot verdere deelname en beskikbaarheid inhou. Die deelname aan verhoudings is agtergrond vir In lewe wat as beproewing geleef word.
Die twee denkers bedink tussen-menslike verhoudings vanuit metafisika's wat tred hou met kontemporere kritiek teen metafisika. Hulle neem wel standpunt in vir 'n gemkarneerde subjek wat die oord van etiese verantwoordelikheid is. Hierdie subjek is wel deur en tot voordeel van die ander gedesentreer. In pas met hierdie verstaan word moraliteit en politiek bedink as terreine waar menslike interaksie radikaal, eties, op die bestaan van die selfinspeel.





